Leer op die harde manier (3)
2020-06-19Rigters 13:7 NLV
Jy soek moeilikheid wanneer jy weier om God ernstig op te neem. Die engel wat Simson se geboorte aangekondig het, het gesê dat hy ‘van sy geboorte tot sy dood aan God gewy [sal] wees.’ Simson was egter agtelosig oor sy geestelike lewe. Hy het net gebid wanneer hy in die moeilikheid was. Hy was impulsief; hy het gedoen net waarvoor hy lus was. Die waarheid is dat ons onsself soveel probleme en pyn sal spaar as ons net stop en God vir aanwysings vra. Simson het net na God toe gedraai wanneer hy in die moeilikheid was. Ons doen dit ook. Ons bid: ‘Here, as U my net uit hierdie dilemma kan red, belowe ek dat ek van nou af vir U sal lewe.’ Die vraag is egter: Is God net ‘n nagedagte of ‘n gerief vir jou? Wanneer dinge moeilik raak en jy in ‘n moeilike posisie is draai jy uit desperaatheid na Hom, maar wanneer dinge goed gaan ignoreer jy Hom? Eers toe Simson deur die Filistyne gevange geneem is, sy oë uitgesteek is en hy soos ‘n os die meule moes laat draai, lees ons dat hy na God toe gedraai en gebid het. Hoe sou Simson se lewe kon gelyk het as hy reg van die begin af gebid het? Hoekom het hy gewag tot alles uitmekaar val voor hy na God gedraai het? Dit hoef nie so in jou lewe te wees nie! Die Psalmdigter het gesê: ‘Geseënd is hulle wat die Here dien, wat wandel op sy weë. Jy sal die vrug van jou arbeid geniet en gelukkig en voorspoedig wees’ (Psalm 128:1-2 NLV).
Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Luk 1:57-66; Ps 139:13-24; Spr 13:25