Leer op die harde manier (2)
2020-06-18Spreuke 1:10 NLV
Jy soek moeilikheid wanneer jy die verkeerde vriende kies. Iemand het een keer tereg opgemerk: ‘As jy saam met die arende wil sweef, kan jy nie saam met die kalkoene rondhardloop nie.’ Jy word uiteindelik soos die mense waarmee jy die meeste tyd spandeer; dis hoekom dit so belangrik is om jou vriende versigtig te kies. Die Psalmdigter het gesê: ‘Gelukkig is die mense wat nie optree volgens die raad van goddeloses, of rondstaan op die pad van sondaars… nie’ (Psalm 1:1 NLV). Simson het ongesonde verhoudings ontwikkel wat hom op die verkeerde pad gelei het. Hier is dus die vraag: Weerhou jou vriende jou daarvan om 100 persent vir God te lewe? Breek hulle jou af of bou hulle jou op? Wanneer jy saam met hulle is, vind jy dat jy dinge doen wat teenstrydig met jou beginsels of gewete is – dinge waaroor jy nie goed voel nie? Die boek Spreuke waarsku ons herhaaldelik oor negatiewe verbintenisse: ‘My seun, as goddelose mense jou wil ompraat, draai jou rug op hulle.’ Aanhoudende blootstelling aan verkeerde houdings en waardes sal uiteindelik sy tol op jou lewe eis. Dis altyd makliker om iemand af te trek as wat dit is om hulle op te hef. Watter soort vriende moet jy dan hê? Die soort wat die beste in jou uitbring, wat jou ophef, jou aanmoedig en jou ‘n beter persoon maak. ‘Is ons nie veronderstel om alle mense lief te hê nie?’ vra jy. Ja, maar jy is nie veronderstel om op hulle te leun, vir hulle te luister, hulle verkeerde maniere aan te leer of soos hulle te word nie. Jy moet volgens hierdie Skriftuurlike reël jou vriende kies: ‘Ek is ‘n vriend vir almal wat U dien, vir elkeen wat u bevele gehoorsaam’ (Psalm 119:63 NLV).
Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Luk 1:39-56; Ps 139:7-12; Spr 13:24