Leer om na God te luister (2)

2024-03-17
Jesaja 1:19 NLV

Mense dink dat hulle nie vir God kan hoor nie, wanneer die realiteit egter is dat daar dinge is wat hulle reeds weet waarop God wil hê hulle moet reageer en tot sover het hulle dit nie gedoen nie. Hoe vinniger jy doen wat ook al die Here vir jou gesê het om te doen, hoe gouer sal Hy die volgende stap aan jou openbaar. Sy belofte is: ‘As julle My maar net gehoorsaam… sal julle baie hê om te eet.’

Om God te kan hoor is iets wat jy net met oefening kan ontwikkel – veral as jy meer daarvan hou om te praat! Dis hoekom Hy sê: ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (Psalm 46:11 NLV). Ons vlees is vol energie; ons wil altyd besig wees om iets te doen en dit kan moeilik vir ons wees om stil te wees. Moenie net met God praat as jy iets nodig het nie, bestee tyd om ook te luister. Hy sal baie kwessies vir jou oplos as jy net sal stil word voor Hom.

Jy sê: ‘Ek dink nie ek het God al ooit met my hoor praat nie.’ Miskien omdat jy nog nie geleer het om te luister nie! Selfs al reageer Hy nie op daardie presiese oomblik nie, kan jy seker wees dat Hy wel sal. Jy mag dalk besig wees om ‘n gewone taak te verrig wanneer Hy met jou praat. Miskien doen jy dinge al vir jare op jou eie manier. As dit die geval is, moenie mismoedig voel nie; dis nooit te laat om van rigting te verander nie. As jy gewillig is om God te gehoorsaam, sal Hy jou op die opwindende reis om elke dag van jou lewe van Hom te hoor, lei.

Sielskos: Gal 5:22; 1 Kor 13; Ef 3:14-21; Joh 15:1-17