Leer om na God te luister (1)
2024-03-16Johannes 16:13 NLV
Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou hanteer nie. Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid…’ (verse 12-13 NLV). Jesus het hierdie woorde vir die dissipels saam met wie Hy die vorige drie jaar deurgebring het, gesê. Sou jy nie dink dat as Jesus in persoon by ons was, dag en nag vir drie jaar lank, sou ons alles geleer het wat daar is om te weet nie? Nee. Jesus sal inderwaarheid iets vir ons sê oor elke nuwe situasie waarvoor ons te staan kom. Daar is sekere dinge wat Hy egter net aan jou sal openbaar wanneer Hy weet dat jy gereed is om dit te hanteer.
God wil met jou op ‘n een-tot-een basis praat, om jou tree vir tree tot by die goeie dinge wat Hy vir jou in gedagte het, te lei. Hy gee vir die kleinste detail van jou lewe om. Moet dus nooit huiwer om die klein dinge na Hom toe te neem nie – alles is immers klein vir God! Hy gee vir die begeertes van jou hart om. Hy wil vir jou die waarheid wat jou vry van vrees en bekommernis sal maak, openbaar.
Sy plan om ‘n intieme verhouding met jou te deel was lank voor jy gebore is, reeds in plek. ‘…Hy het die tye van hulle bestaan bepaal, en die grense van hulle blyplek. God se doel met die nasies was om Hom te soek…’ (Handelinge 17:26-27 NLV). Dink nou daaroor: As God jou lewe voor jy gebore was al in sulke klein detail beplan het, is dit nie belangrik vir jou om te leer om na Hom te luister nie?
Sielskos: 2 Kon 13-15; Matt 24:3-28; Ps 24; Spr 7:24-25