Leer jou kinders

2022-04-30
Deuteronomium 4:40 NLV

As ouer dra jy konstant jou waardes aan jou kinders oor, doen dus die volgende: 1) Laat hulle jou sien bid. Help hulle om te verstaan dat gebed die manier is waarmee ons ‘n lewenslange vriendskap met God bou. God het gesê: ‘Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel’ (Psalm 91:15 NLV).

2) Wys hulle hoe God is. Jou kind se konsep van God word deur jou gevorm. Of jy nou liefdevol en beskermend of afwesig en koud is, hulle sal God begin verstaan deur die interaksies wat hulle met jou het. ‘n Paar voorbeelde is dat God nooit te besig is om te luister nie, dat Hy konstant vir ons sê dat Hy lief is vir ons en dat Hy ons nooit mishandel nie.

3) Help hulle om God in ander te sien. Wanneer kinders aangemoedig word om God se werk in hulle eie lewens te sien, sal hulle begin om sy werk ook in ander mense se lewens raak te sien. Wanneer dit gebeur, sal hulle ander mense waardeer en respekteer en deur ander mense gewaardeer en gerespekteer word.

4) Moenie hulle kerk toe stuur nie, neem hulle saam. Kinders het die behoefte om te glo – en te behoort. Leer hulle dat net soos ‘n ledemaat wat nie aan die liggaam gekonnekteer is nie sterf, ons geestelik sterf tensy ons aan ‘n plaaslike kerk gekonnekteer is. Hulle sal dan altyd ‘n plek hê om heen te gaan.

Die Bybel sê: ‘As julle al die gebooie en voorskrifte gehoorsaam… sal dit goed gaan met julle en met julle kinders…’ (Deuteronomium 4:40 NLV). Die grootste geskenk wat jy vir jou kinders kan gee, is om hulle te help om die regte pad te vind.

Sielskos: Jak 1-2; Matt 4:12-25; Ps 94:1-11; Spr 10:24-26