Leer by Moses (2)
2020-10-25Hebreërs 11:25 NLV
Tweedens moet jy verantwoordelikheid vir jou lewe neem. ‘Omdat Moses geglo het, het hy as volwasse man geweier om as die seun van Farao se dogter bekend te staan. Hy het die swaarkry saam met God se volk verkies bo die kortstondige genieting van die sonde’ (verse 24-25 NLV). Eerstens, het Moses geweier om enigiemand behalwe homself te wees. Tweedens, het hy gekies om God se pad te stap.
Die beginsel hier is dat jy altyd ‘n negatiewe met ‘n positiewe kan vervang. Jy hou nie net op om iets te doen nie – jy begin iets anders doen. Die Christelike lewe is nie ‘n saak van negatiewe reëls en regulasies nie. Dis ‘n saak van verhoudings – met God, met ander mense en met jouself.
Let op dat Moses sy besluit gemaak het toe hy ‘n ‘volwasse man’ was. Dis ‘n teken van volwassenheid wanneer jy persoonlike verantwoordelikheid begin aanvaar. Toe Moses ‘n baba was, was dit in die haak om die besluit oor wie hy was, uit te stel. Toe hy egter ‘n volwassene word, moes hy ‘n keuse maak, verantwoordelikheid vir sy eie lewe neem en vorentoe beweeg.
Dis altyd maklik om ander mense te blameer: ‘Ek sou God se pad stap as my kêrel of vriendin, ma of pa, man of vrou, dit ook sou doen.’ Of: ‘Ek sou vandag ‘n beter mens gewees het as ek beter ouers gehad het.’ Jy kan nie al die omstandighede in jou lewe kies nie, maar jy kan kies of die omstandighede jou ‘n bitter of ‘n beter persoon maak. Op die ou einde is jy die enigste een wat jou lewe kan ruïneer! Die duiwel kan nie, omdat hy nie genoeg mag het nie – en God sal nie, want Hy is lief vir jou. Kies dus om God se pad te stap!
Sielskos: Matt 6:5-15; Jak 5:13-18; 1 Tess 5:16-18