Leer by Moses (1)

2020-10-24
Hebreërs 11:24 NLV

Moses se lewe openbaar vier kwessies wat jy moet hanteer sodat jy sukses in die lewe kan behaal.

Eerstens: Jy moet weet wie jy is. ‘Omdat Moses geglo het, het hy as volwasse man geweier om as die seun van Farao se dogter bekend te staan.’ Moses is as ‘n Hebreër gebore, maar is as ‘n Egiptenaar deur die farao se dogter grootgemaak. Selfs al was hy besig om opgelei te word om tweede in bevel in Farao se koninkryk te wees, het Moses geweet dat God hom geroep het om sy mense te bevry en hulle uit Egipte te lei. Dus moes hy ‘n keuse maak. Moses het elke gemak waarvoor hy kon wens in die paleis gehad en hy kon daar gebly het. Wat sou jy gedoen het? Moses het die regte besluit gemaak, maar dit het beteken dat hy die volgende tagtig jaar van sy lewe in die woestyn sou moes deurbring.

Almal van ons moet vrede met ons identiteit maak. Ons het almal ‘n diepe behoefte en begeerte om te aanvaar wie ons is. Om iemand te probeer wees wat ons nie is nie, is ‘n vinnige manier om ‘n maagseer te kry, omdat dit ons onder so baie druk plaas.

Moses het hierdie spanning herken en besluit om op te hou om voor te gee. Dis bevrydend wanneer ons ophou om iemand te probeer wees wat ons nie is nie en God se plan vir ons lewe begin aanvaar. Hoe sou ons Moses vandag onthou het as hy besluit het om in die paleis te bly? Dalk as ‘n Egiptiese mummie in een of ander museum – of dalk glad nie. Hy het egter die moeilike besluit geneem, wat in die lig van die ewigheid die regte besluit was. Leer by hom!

Sielskos: Hab 1-3; Joh 6:25-34; Ps 98; Spr 24:15-18