Lasarus se verhaal en joune (2)
2022-11-17Johannes 11:21-22 NLV
Hier is nog drie dinge wat ons uit die verhaal van Lasarus kan leer:
1) God kan dit wat jy verloor het, herstel. Een van die grootste beloftes in die Skrif is dat God die jare wat die lewe by jou gesteel het, kan herstel (sien Joël 2:25). Eis hierdie belofte op; neem dit terug na die tyd waar jy so baie verloor het en vra God om dit te vervang, te herstel en te vernuwe. Hy sal dit doen.
2) Waaraan jy ook al gebonde is, God kan jou vry maak. “…Hy [het] met ‘n kragtige stem uitgeroep: ‘Lasarus, kom uit!’ Die dooie het uitgekom, sy voete en hande nog toegedraai in doeke en sy gesig nog verbind met ‘n kopdoek. Jesus sê vir hulle: ‘Maak die doeke los en laat hom gaan'” (Johannes 11:43-44 NLV). God se krag is groter as enige gewoonte, kwessie of omstandighede wat jou gebonde hou. Bid saam met die Psalmdigter: ‘Gee vir my insig dat ek kan leef volgens u gebooie, en dit van harte gehoorsaam. Laat my wandel volgens u gebooie, want dis waarin ek vreugde vind’ (Psalm 119:34-35 NLV). Wanneer jy hierdie gebed bid, sal jou geloof groei en omstandighede wat tans vir jou onmoontlik lyk, sal deur God se krag verander word.
3) Maak nie saak hoe sleg jy voel nie, God verstaan. By Lasarus se begrafnis, het “Jesus [toe] begin huil. Die Jode sê toe: ‘Kyk net hoe lief was hy vir Lasarus!'” (Johannes 11:35-36 NLV). Hierdie verhaal bewys dat ons ‘n God dien wat nie net dit wat jy verloor het kan teruggee nie, maar wat omgee oor dit waardeur jy gaan (sien Hebreërs 4:15).
As jy dus vandag seer ervaar, draai na Hom toe en laat Hom toe om jou te help.
Sielskos: 1 Kron 12:23-15:29; Joh 9:24-41; Ps 8; Spr 26:17-22