Lasarus se verhaal en joune (1)

2022-11-16
Johannes 11:4 NLV

Neem waar: 1) God het ‘n plan in gedagte wat jy nie kan sien nie. Hoekom het Jesus vier dae gewag om die familie te gaan besoek nadat Hy gehoor het dat Lasarus gesterf het? God wag vir twee redes: a) Sodat jou geloof versterk kan word. Jesus het gesê: ‘…maar ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle kan glo…’ (vers 15 NLV). Jou volgende krisis sal anders as jou laaste een wees, maar jou geloof moet sterk bly. b) Dat God verheerlik kan word. Die Fariseërs het geglo dat jou siel op die vierde dag jou lyk verlaat. As Jesus vroeër ingegryp het, kon hulle gesê het: ‘Hy was nie regtig dood nie.’ Dus het Jesus gesê: ‘Hierdie siekte… vind plaas om die heerlikheid van God sigbaar te maak…’ Dis wanneer jy terugkyk, wat jy God se wysheid en wil in die situasie sien werk.

2) God sal jou dwing om kwessies wat jy probeer begrawe het, te hanteer. “Jesus sê toe: ‘Rol die klip weg.’ Maar Marta… sê vir Jesus: ‘Meneer, hy ruik seker reeds, want dit is die vierde dag'” (vers 39 NLV). Bid jy vir ‘n antwoord in een area terwyl God vir jou sê om die klip in ‘n ander area weg te rol en daardie kwessie te hanteer? Wanneer jou hart reg is met God, sal jou gebede beantwoord word (sien 1 Johannes 3:21-22).

3) God sal jou ‘n voorbeeld van sy genade maak. Dink aan Lasarus na sy opstanding. Sonder om ‘n woord te spreek, het sy lewe aan almal verklaar dat Jesus die Here is. Dieselfde kan waar wees van jou. God het jou verlos en opgehef om ‘n getuienis van sy genade te wees.

Sielskos: 1 Kron 10:1-12:22; Joh 9:13-23; Ps 83:9-18; Spr 26:13-16