Laat jou liefde vir Jesus weer ontvlam

2022-11-25
Openbaring 2:4 NLV

Jesus het vir die kerk in Efese drie dinge gesê: 1) Dink terug. ‘Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het…’ (vers 5 NLV). Dink aan die hoogtes wat jy eens op ‘n tyd geken het. Nie die slegte tye nie, maar die beste tye. Onthou toe dit die hoogtepunt van jou dag was om tyd in gebed en met die Skrif te bestee? Wat het jy toe gedoen wat jy nie nou meer doen nie?

2) Bekeer jouself. Dit beteken dat jy jou gedagtes, jou rigting en jou optrede verander. Jy kan nie ‘n probleem met dieselfde denke en optrede wat dit veroorsaak het, oplos nie. Toe die Verlore Seun by die varkhok gekom het, het hy besef dat hy sy laagste punt bereik het. Dis toe dat hy gesê het: ‘Ek sal huis toe gaan na my pa toe en sê: Pa, ek het gesondig teen sowel die hemel as teen Pa’ (Lukas 15:18 NLV). Sy pa het hom vergewe en hom herstel. Hoe het sy verhaal geëindig? Hy het weer sy regmatige plek by die familietafel ingeneem. Dit kan ook met jou gebeur.

3) Herhaal. ‘…doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het…’ (Openbaring 2:5 NLV). Maak ‘n lys van die dinge wat jy gedoen het toe jou verhouding met die Here wonderlik was en wy jouself dan met gebed daaraan toe om dit weer elke dag te doen. Doen dit totdat die vreugde van jou eerste liefde weer aan die brand gesteek is.

Betwyfel jy dat God genadig teenoor jou sal wees? Lees dan die volgende: ‘…Maar U is ‘n God wat vergewe, genadig en vol deernis… U is liefdevol en getrou. U het hulle nie in die steek gelaat nie’ (Nehemia 9:17 NLV).

Sielskos: 2 Kron 9-12; Joh 11:28-37; Ps 102:18-28; Spr 27:13-16