Laat jou lewe voor God tel

2021-02-08
2 Timoteus 4:7 NLV

In die Mount Hope begrafplaas in Hiawatha, Kansas, sal jy verskeie groot grafstene kry wat deur John Milburn Davis opgerig is. Davis het sy beroep begin as ‘n loonwerker en het dit later reggekry om ‘n groot fortuin op te bou. Hy het nie baie vriende in die proses gemaak nie. Hy was ook nie na aan sy vrou se familie nie, omdat hulle gedink het dat Davis benede haar is. Hy was bitter en het gesweer om hulle nie ‘n sent na te laat nie. Toe sy vrou oorlede is, het Davis ‘n groot grafsteen van hom en haar wat op ‘n bankie sit, opgerig. Hy was so in sy skik daarmee dat hy ‘n tweede monument beplan het, wat sy vrou sou uitbeeld waar sy met blomme voor sy toekomstige graf kniel. Een idee het tot ‘n volgende gelei en voor hy sy oë kon uitvee, het hy ‘n kwartmiljoen dollars op huldeblyke aan sy vrou en homself spandeer. Wanneer mense hom gevra het om by te dra tot ‘n nuwe hospitaal of park, sou die ou gierigaard sê: ‘Wat het hierdie dorp al ooit vir my gedoen?’ Davis het sy lewensfortuin op standbeelde spandeer en is as eensame, norse ou man op twee-en-negentig jaar in die armhuis oorlede.

Wat het van sy monumente geword? Elke liewe een van hulle is stadig besig om in die Kansas grond in te sink – slagoffers van tyd, vandalisme, verwaarlosing – monumente van ‘n nydige en selfgesentreerde lewe. Daar is ‘n sekere poëtiese geregtigheid daaraan dat hulle almal oor ‘n paar jaar in rommel sal verdwyn. Net een persoon het Davis se begrafnis bygewoon – Horace England, die grafsteenverkoper! Moenie dat dit met jou gebeur nie; laat jou lewe voor God tel!

Sielskos: Rom 3:21-6:23; Matt 13:10-23; Ps 125; Spr 4:3-4