Kry jou goedkeuring by God
2020-06-12Psalm 123:2 NLV
Dis altyd lekker om vir die werk wat jy doen gewaardeer te word, maar wanneer dit nie gebeur nie, kan dit jou selfwaarde affekteer. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Soos oë van slawe gerig is op die hand van hulle meester… so is ons oë gerig op die Here…’ Jou waarde kom van God, nie van jou baas af nie. Wanneer jy dit vergeet, stel jy jouself vir frustrasie in die werkplek oop. Dit kan gebeur dat jy minder effektief in jou werk word, omdat jy nie gewillig is om besluite en risiko’s te neem nie, vir ingeval dit ander mense se dunk van jou affekteer. Jy word dan inderwaarheid ‘n ‘ja’ man of vrou, wat net knik en met almal saamstem om hulle tevrede te stel sodat hulle van jou sal hou. Gevolglik daal jou waarde vir die maatskappy, omdat jy nie jou Godgegewe gawes ten volle gebruik nie. Jou posisie is net ‘n klein gedeelte van wie jy is, ‘n speek wat van die kern van jou identiteit as seun of dogter van die Koning van konings, uitgaan. Jy is nie die rat wat die wiel draai nie. Deur te weet wie jy is, apart van wat jy doen, is net so noodsaaklik vir sukses in die werkplek soos jou ervaring en vaardighede. Wanneer ander mense weet dat jy konstante goedkeuring nodig het, bemagtig dit hulle om jou te manipuleer, jou te definieer en jou selfwaarde te beïnvloed. Dis te veel mag om vir enigiemand te gee! Of jy nou met ‘n besem vee of aan die hoof van ‘n miljoen-rand projek staan, onthou: ‘Wat julle ook al…doen, doen alles tot eer van God’ (1 Korintiërs 10:31 NLV).
Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Mark 15:33-47; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12