Kom ons wees eerlik

2023-06-30
1 Korintiërs 10:13 NLV

Die probleem is nie net dat ons sondig nie; dis dat ons nie daaroor praat nie. Ons is gemaklik met verhale van mense wat gesondig het, omdat dit ‘n gelukkige einde het. Stel jou voor jy gaan na ‘n berader en sê: ‘Ek wil net oor probleme praat wat ek gehad het. Moet my asb nie uitvra oor my huidige probleme nie. Dit sal my skaam maak. Ek is bang jy sal my verwerp.’ Hoekom sal jy na ‘n berader toe gaan en hom of haar probeer oortuig dat jy nie berading nodig het nie? Mense is gemaklik daarmee om hulle dokter van ‘n fisiese probleem of ‘n werktuigkundige van ‘n probleem met hulle kar te vertel. Moet ons dan nie ook gemaklik daarmee wees om vir mekaar te sê wanneer ons ‘n probleem het nie?

As jy wil hê dat God (of enigiemand anders) die ware jy moet liefhê, moet jy daaraan werk om eerlik te wees. Dawid was Israel se beste koning, maar hy was ‘n poligamis. Hy was ook ‘n aaklige pa. Hy het ‘n ander man se vrou begeer, met haar owerspel gepleeg, probeer om haar man om die bos te lei, hom uiteindelik laat vermoor en het sy misdade vir ‘n jaar lank toegesmeer; dus was hy inhalig, ‘n egbreker, ‘n leuenaar en ‘n moordenaar. Soos iemand geskerts het: ‘Niemand het in daardie tyd met ‘n ‘Wat sou Dawid doen?’ armband rondgeloop nie.’ Tog noem die Bybel Dawid ‘…’n man na [God] se hart…’ (1 Samuel 13:14 NLV).

Is dit moontlik vir iemand om so intens met sonde te worstel en terselfdertyd na God te smag? Ja. Dis ook hoekom die Bybel sê: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’ (Jakobus 5:16 NLV).

Sielskos: Jer 10-13; Matt 22:34-46; Ps 64; Spr 14:25-28