Koester hulle
2023-12-20Spreuke 4:3 NLV
Vir jou kind om later in die lewe fisies en emosioneel te floreer, moet jy hulle gedurende hulle vroeë en formatiewe jare koester. Gesondheidskundiges sê deesdae dat dit inderwaarheid noodsaaklik vir hulle oorlewing is. Een Christelike leier skryf: “‘n Studie wat aan die Harvard Universiteit gedoen is, toon onmiskenbaar dat die kwaliteit van die band tussen ‘n seun en sy ma verband hou met sy fisiese gesondheid en welstand veertig of vyftig jaar later. Merkwaardig genoeg het 91 persent van mans wat gesê het dat hulle nie ‘n noue verhouding met hul moeders gehad het nie, teen hul middeljare hartsiektes, hipertensie, maagsere of alkoholisme ontwikkel. Slegs 45 persent van die mans wat moederlike warmte en nabyheid onthou het, het soortgelyke siektes gehad.
Dieselfde was waar van mans en hul verhoudings met hulle pa’s. Oorweeg ook die volgende: 100 persent van die deelnemers aan hierdie studie wie se moeders en vaders koud en afgetrokke was, is in hul middeljare met talle siektes gediagnoseer. Kortom, die kwaliteit van vroeë verhoudings tussen seuns en hul ouers is ‘n kragtige voorspeller van lewenslange gesondheid. Jy kan seker wees dat dieselfde vir meisies en vroue geld. Dit kom hierop neer: Waar daar nie aan vroeë behoeftes voorsien word nie, is moeilikheid die voorland.”
Salomo, een van die wysste mans wat ooit gelewe het, het gesê: ‘Ek was self ook ‘n kind van my pa, die enigste oogappel van my ma.’ Dawid en Batseba was Salomo se ouers en die verhaal van hulle verkeerde optrede is vir ons almal om te lees neergeskryf. Toe dit egter by die grootmaak van hulle seun Salomo gekom het, het hulle dinge reg gedoen. Deur God se genade kan jy dieselfde doen.
Sielskos: Neh 11-13; Joh 18:25-40;Ps 4; Spr 30:29-33