Kinders en vlieërs
2023-11-07Matteus 19:5 NLV
Om kinders te laat gaan, is een van die moeilikste fases van ouerskap. Erma Bombeck vergelyk dit met iemand wat ‘n vlieër vlieg. ‘Ma en Pa hardloop in die pad af in die hoop om ‘n briesie te vang. Uiteindelik en met baie moeite, kry hulle dit reg om die vlieër ‘n paar meter in die lug te hys. Net wanneer hulle dink dit is veilig en aan die gang, dreig groot gevaar. Dit duik na elektriese drade en draai gevaarlik naby die bome. Dit is ‘n skrikwekkende oomblik. Dan, onverwags, vang ‘n rukwind die vlieër en dra dit opwaarts. Ma en Pa begin so vinnig as wat hulle kan die lyn voer. Die vlieër word dan moeilik om vas te hou. Ouers bereik die einde van hul lyn en begin wonder wat om volgende te doen. Die vlieër vra meer vryheid. Dit styg al hoe hoër. Pa staan op sy tone om dit te probeer akkommodeer. Die tou word tussen sy wysvinger en duim vasgegryp en uitgestrek boontoe gehou. Dan kom die oomblik van vrylating. Die tou glip deur sy vingers en die vlieër sweef majestueus in God se pragtige lug in. Die vlieër is nou ‘n blote punt van kleur in die lug. Die ouers is trots op wat hulle gedoen het – maar hartseer om te besef dat hulle werk klaar is. Dit was ‘n liefdesarbeid. Maar waar is die jare heen?’
Ouerskap is ‘n opwindende en vreesaanjaende ervaring, een wat van die begin af so beskik is. Met die uiteindelike vrylating is jou taak as ouer voltooi. Die vlieër is vry en vir die eerste keer in twintig jaar of so, is jy ook. Wat is volgende? Vra God; Hy het ‘n plan vir jou lewe.
Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:45-53; Ps 30; Spr 25:13-17