Karakter (2)
2023-12-19Jakobus 1:12 NLV
Omdat hy aantreklik was, het Josef ongewensde aandag by sy baas se vrou gekry. Dag na dag het sy hom probeer verlei. As Josef daardie tipe verleiding, toe hy net ‘n huisslaaf was, teëgekom het, kan jy dink aan die vlak van verleiding waaraan hy blootgestel is toe hy Egipte se eerste minister geword het?
Wanneer jy met integriteit in die klein dinge optree, rus dit jou toe om met integriteit in die groot dinge op te tree. Jy sal in die uur van verleiding gedwing word om tussen twee paaie te kies: karakter of kompromie. Elke keer wat jy karakter kies, word jy sterker, selfs wanneer jy ‘n prys vir jou keuse betaal. Let die volgende op:
1) Karakter is meer as net woorde. Onthou jy die ou wys-en-vertel-metode van onderrig op skool? As jy alles vertel en niks wys nie, verloor jy geloofwaardigheid.
2) Talent is ‘n gawe, maar karakter is ‘n keuse. Oor die algemeen is talent iets waarmee jy gebore word; jy het nie veel sê in die saak nie. Karakter is egter ‘n keuse wat jy elke dag maak en dis gewoonlik net jy en God wat daarvan weet.
3) Karakter bring blywende sukses mee. Daar word gesê dat vroeë Stradivarius-viole uit hout van bome wat die swaarste storms beleef het, gemaak is. Hoekom? Want weergeteisterde hout produseer die soetste musiek. Kry jy die idee?
4) Jy mag dalk tydelik bo die beperkings van jou karakter uitstyg, maar dis nie volhoubaar nie. Uiteindelik sal jy vir dit wat jy waarlik is, gesien word.
Die woord vir jou vandag is dus – moenie net werk om jou loopbaan te bou nie, werk daaraan om jou karakter te bou.
Sielskos: Neh 8-10; Joh 18:12-24; Ps 57; Spr 30:24-28