Karakter (1)

2023-12-18
Spreuke 11:4 NLV

Abraham Lincoln het gesê: ‘Amper alle mense kan teëspoed hanteer, maar as jy regtig iemand se karakter wil toets, gee vir hom mag.’ Dis makliker om op ons talente te fokus, want oor die algemeen produseer dit resultate wat beloon en deur ander gevier word. Daar is met ander woorde ‘n element van ego wat aan ons gawes gekoppel is.

Karakter word in privaatheid gebou. Jou reputasie is wat mense dink jy is, maar karakter is wat God (en jy) weet jy is. Jy moet dus meer op jou karakter as jou talente fokus. Die Bybel sê: ‘Iemand wat reg optree, is soos ‘n vrugbare boom. ‘n Mens wat wys is, red ander se lewens’ (Spreuke 11:30 NLV). As jy vir groter resultate bid, moet jou karakter jou dade vooruitgaan. Om groter doelwitte te bereik, moet jy effektiewer as leier word. Om mense meer aan te trek, moet jy ‘n persoon van goeie karakter word.

Wanneer jy deurlopend karakter, bekwaamheid en doelwitte ten toon stel, maak jy ‘n kragtige stelling teenoor die mense rondom jou en trek hulle na jou toe aan. Groot dinge word selde alleen bereik, so as jy dus goeie mense wil aantrek, moet jy self ‘n beter persoon word.

Dis veral waar as jy ‘n persoon met groot talente is. Jou talente mag jou dalk voor ander mense ophef, maar jou tekort aan karakter sal jou afbring. Die Bybel sê: ‘Baie geld help maar min wanneer probleme jou oorval. Wie die Here ken, word van die dood gered’ (Spreuke 11:4 DB). ‘n Wyse leier is gewillig om die volgende te erken: ‘Ek is nie perfek nie, maar ek weet wie is. Ek doen my bes om meer en meer soos Hy in my professionele en persoonlike lewe te word.’

Sielskos: Neh 5-7; Joh 18:1-11; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23