Kan die Here jou roep?
2024-08-23Handelinge 9:10 NLV
Hoekom het God vir Ananias gebruik om Saulus van Tarsus na Christus toe te lei? Omdat hy die regte man, op die regte tyd, met die regte boodskap en die regte houding was. “Daar was ‘n gelowige in Damaskus met die naam Ananias. Die Here het hom in ‘n gesig geroep: ‘Ananias!’ ‘Ja, Here!’ het hy geantwoord. Daarop sê die Here vir hom: ‘Gaan nóú Reguitstraat toe, na Judas se huis. Vra daar na Saulus van Tarsus. Hy is besig om tot My te bid… Ananias het toe vertrek en in daardie huis ingegaan. Hy het sy hande op Saulus gesit en gesê: ‘Broer Saulus…'” (verse 10-11, 17 NLV).
Hier is dus die vraag: As God jou nodig het om iets vir Hom te doen, sal jy gereed wees? Sal jy gewillig wees? Dit was nie ‘n maklike opdrag nie, want Saulus was berug daarvoor om Christene gevange te neem en hulle tereg te stel. Toe God egter vir Ananias gesê het: ‘…Gaan doen wat Ek sê, want Ek het Saulus as my instrument uitgesoek om my boodskap uit te dra na volke en konings, en ook aan die volk Israel’ (vers 15 NLV), het hy God vertrou en gegaan.
Ananias het alle reg gehad om Saulus te vrees en selfs om hom kwalik te neem. Tog het hy hom ‘broer’ genoem. Ananias het ‘n ou vyand as deel van God se verloste familie erken. Jy moet ook leer om dit te doen. Wanneer God iemand sy kind noem, moet jy hulle liefhê, aanvaar en hulle as jou broer of suster in Christus behandel. Kom ons kom dus terug by die vraag: As God jou vandag nodig het om iets vir Hom te doen, sal jy gereed wees? Jy kan wees. Jy moet wees.
Sielskos: 2 Kro 16-18; Luk 16:1-18; Ps 119:105-112; Spr 21:28-31