Jy word deur God beskerm

2024-08-27
Psalm 91:1 NLV

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Brittanje skuilings teen lugaanvalle gebou. Daar was dikwels verskeie sulke skuilings in een straat. ‘n Pastoor vertel hoe hy in so ‘n skuiling gestaan het terwyl die bomme om hulle geval het. Hy het na die man langs hom gedraai en gevra: ‘Hoekom is hierdie skuiling altyd so oorvol, terwyl die ander amper leeg is?’ Die man het geantwoord: ‘Pastoor, ons almal weet dat jy ‘n man van God is. As God enigiemand gaan red, gaan dit heel waarskynlik vir jou wees. Dis hoekom ons in hierdie skuiling is.’

Toe hy later daaroor nadink, het die pastoor gesê: ‘Baie van hierdie mense het nie kerk bygewoon nie en die naam van Jesus was in hul woordeskat ‘n vloekwoord. Hulle wou sy beskerming hê, maar nie sy heerskappy nie.’ Weier om so te lewe! Wy jou lewe aan God toe en geniet vier-en-twintig uur, sewe dae ‘n week, twee-en-vyftig weke ‘n jaar, vir jou hele lewe, sy beskerming.

‘Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige. Ek sal vir die Here sê: ‘U is my toevlug en my vesting, my God op wie ek vertrou.’ Verseker sal Hy jou red… Hy sal jou oordek met sy vere, en onder sy vlerke sal jy skuil… Jy sal nie bang wees vir die skrik van die nag, of die gevare van die dag; vir die plaag wat in die donker bekruip, of die ramp wat teen die middag verwoes nie. Al sou duisend langs jou val, of tienduisend om jou sterf, naby jou sal dit nie kom nie’ (Psalm 91:1-7 NLV).

Sielskos: 2 Kro 25-28; Luk 17:11-19; Ps 119:129-136; Spr 22:8-10