Jy sal daardeur kom
2022-11-11Psalm 16:8 NLV
Wanneer dit voel of gebed nie die antwoord bring nie, begin jy vra: ‘Hoe kom ek deur dit?’ Die Bybel spreek hierdie vraag aan deur vir ons te sê dat Jesus, ‘…ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur [het]…’ (Hebreërs 12:2 NLV). Dan word die volgende bygevoeg: ‘Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie’ (vers 3 NLV).
Die rede hoekom Jesus kon verduur, is omdat Hy gefokus was op dit wat later sou gebeur; die blydskap dat Hy die Vader behaag het, die bou van die kerk en die evangelie wat die wêreld uitgestuur is. Hier is hoe Dawid deur moeilike tye gekom het. ‘Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand, daarom sal ek nie struikel nie. Hieroor is my hart vol vreugde. Ek besing sy lof, en rus in veiligheid’ (Psalm 16:8-9 NLV).
In plaas daarvan om die werklikheid te ontken of jou pad daardeur te probeer oopstoei, besef dat die Here by jou is en put die krag wat jy nodig het uit Hom uit. Dit is moeilik om swaarkry te verduur, maar as jy nie verstaan hoekom nie, kan dit frustrerend wees. Dus, wanneer jy nie ‘n antwoord in sy Woord of deur gebed en die raad van ander kan vind nie, bly jy wonder. Jy sal ook nie die eerste een wees wat wonder nie. Dawid vra herhaaldelik ‘Hoekom?’ in die Psalms en steeds het God hom ‘…’n man na my hart. Hy sal alles doen wat Ek wil hê’ (Handelinge 13:22 NLV), genoem. Skep dus moed; jy sal deur dit kom!
Sielskos: 1 Kron 1-2; Joh 8:21-30; Ps 115; Spr 25:23-25