Jy moet goeie gedrag toon om goeie vrug te dra (1)
2021-11-20Psalm 25:8 NLV
Hoe sal jy ‘goedheid’ of ‘die goeie lewe’ definieer? Die Franse filosoof, Jean-Jacques Rousseau het geluk as: “‘n Goeie bankbalans, goeie kos en ‘n goeie spysverteringstelsel,” gedefinieer. Sommiges sal sê dat die goeie lewe fisies van aard is. Hulle dink dat daar niks beters as ‘n lang, warm bad, ‘n rugmassering of ‘n drankie in die kroeg is nie. Ander mense sal weer sê dat die goeie lewe materieel van aard is. Hulle dink as jy ‘n herehuis, ‘n Mercedes en geld het, dat jy die goeie lewe geniet.
Goedheid gaan egter nie daaroor om goed te voel, goed te lyk, of goed te besit nie. Dit gaan daaroor om goed te wees en goed te doen. Net soos ons ‘n horlosie nodig het om tyd aan te dui en ‘n liniaal nodig het om afstand te meet, so het ons ‘n universele standaard nodig om goedheid te bepaal. Ons het een. God! Sonder ‘n algemene aanvaarde standaard vir goedheid, word dit ‘n grys area en kom dit op opinie neer.
Hitler het gedink dat die uitwissing van die Joodse ras ‘n ‘goeie ding’ was. Selfmoordbomaanvallers dink dat dit ‘n ‘goeie ding’ is om onskuldige mense dood te maak. Sulke denke kan nie teengestaan word met ‘n eenvoudige: ‘Dis nie ‘n goeie ding’ nie. Wat weerhou Hitler of ‘n selfmoordbomaanvaller dan daarvan om te sê: ‘Wel, dis net jou opinie’?
Die woord ‘goed’ stam van ‘n ou Engelse woord met dieselfde konnotasie as God, af. Dit beteken letterlik: ‘Om soos God te wees.’ Die Engelse woord ‘Goodbye,’ is die verkorte weergawe van: ‘God be with ye.’ Die universele standaard vir goedheid kan net deur iemand wat universeel goed is, bepaal word en die enigste Een wat dit kan wees, is God. Dink daaroor!
Sielskos: 2 Kro 22-24; Joh 12:12-19; Ps 102:1-11; Spr 27:7-9