Jy kan verander
2017-09-29Jesaja 64:8 NLV
Het jy al ooit gesien hoe ‘n stuk klei in iets beeldskoon omskep word? Die klei kan nie self verander nie; die mag om dit te doen lê in die hande van die pottebakker. Jesaja sê, ‘…Ons is soos klei en U die Pottebakker. Deur u hand is ons gevorm.’ Dit beteken dat jy nie die res van jou lewe met jou vrese en fobies hoef saam te lewe nie; God kan jou verander. Selfs al bekommer jy jou al jou hele lewe lank, hoef jy jou nie die res van jou lewe te bekommer nie. Wat daarvan as jy in armoede of veroordeling gebore is? Jy hoef nie so dood te gaan nie. Waar het jy die idee gekry dat jy nie kan verander nie? Wat is die bron van opmerkings soos ‘Dis maar net in my aard om my te bekommer,’ of ‘Ek sal altyd pessimisties wees,’ of ‘Ek kom uit ‘n familie van alkoholiste en verslaafdes, so ek sal nooit vry wees nie’? Sal jy dieselfde stelling oor jou fisiese liggaam maak? ‘Dis maar net in my aard om ‘n gebreekte been te hê. Ek kan niks daaraan doen nie.’ Natuurlik nie. As jou liggaam iets oorkom, soek jy hulp. Moet jy dan nie dieselfde met jou sondige begeertes, suur houdings en selfsugtige tirades maak nie? Wat die wêreld as gemors sien, sien God as kosbaar. Soos die pottebakker kan Hy jou neem, jou vorm en jou in ‘n kosbare item verander (sien 2 Timoteus 2:21). Ons sing, ‘Doen slegs u wil Heer, u wil met my. U Pottebakker, met my die klei.’ Jy moet net jou lewe in sy hande plaas. Wanneer jy ophou om jouself te probeer verander en jouself aan God oorgee, sal ware en blywende verandering plaasvind.
Sielskos: 1 Kor 12-14; Mark 15:21-32; Ps 60; Spr 25:21-22