Jy kan jou vrees oorwin

2024-07-22
1 Johannes 4:18 DB

Volgens psigiatriese verwysing bestaan daar ongeveer tweeduisend geklassifiseerde vrese. Wat interessant is, is dat psigiaters sê dat net twee vrese aangebore is: die vrees om te val en die vrees vir harde geluide. Dit beteken dat ons elke ander soort vrees aanleer. Dit beteken egter ook dat ons elke ander vrees kan afleer. Die meerderheid van ons word, ten goede of ten kwade, deur ‘n handvol ervarings gevorm. Hierdie bepalende oomblikke kan ‘n saad van selfvertroue of ‘n saad van onsekerheid, ‘n saad van hoop of ‘n saad van weerloosheid, ‘n saad van geloof of ‘n saad van vrees, plant.

Johannes sê dat die einddoel van ons verhouding met God die volgende is: ‘…Waar daar liefde heers, is daar nie plek vir vrees nie… Ware, egte liefde verdryf eenvoudig alle vrees…’ (1 Johannes 4:17-18 DB). Die woorde ‘ware, egte liefde,’ verwys nie na ons liefde vir God nie, maar eerder na God se onvoorwaardelike, onverdiende, onfeilbare liefde vir ons. ‘n Pastoor skryf: ‘Die doel van liefde is vreesloosheid! Soos ons in ‘n liefdesverhouding met God groei, leer ons die vrese wat ons verlam en ons geestelik neutraliseer, af. Dit is die kern van geloof. Geloof is die proses om jou irrasionele vrese af te leer. Om jou vrese af te leer is inderwaarheid ‘n proses om te leer om God al hoe meer te vertrou.’

Een van die grootste beloftes wat God vir ons in die Skrif gegee het, is die volgende: “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV).

Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Luk 8:26-39; Ps 140; Spr 18:21-22