Jy kan die vesting breek!

2018-12-20
2 Korintiërs 10:4 NLV

Wanneer ‘n patroon van boosheid van een generasie na die volgende aangegee word, verwys die Bybel daarna as ‘n ‘vesting.’ Dawid het ‘n probleem met begeerte gehad, wat in die affair met ‘n ander man se vrou ontaard het. Dieselfde gees is aan Dawid se seun Amnon aangegee en hy het sy suster verkrag (sien 2 Samuel 13). Toe Dawid daarvan hoor was hy kwaad, maar hy het niks daaraan gedoen nie. Wat kon hy sê? Abraham het vir ‘n heidense koning gejok en gesê dat sy vrou sy suster is om so sy eie lewe te spaar (sien Genesis 20). Sy seun Isak het presies dieselfde ‘n paar hoofstukke later gedoen! (sien Genesis 26). Kundiges sê dat die kinders van alkoholiste vierhonderd keer meer geneig is om self alkoholiste te word; en dat meer as 80 persent van kindermolesteerders self as kind gemolesteer is. Soms kan jy die patroon van beide kante van die familie af sien kom. Daar is egter goeie nuus. God genees disfunksionele families – en die genesing kan met jou begin! Net omdat jou ouers emosioneel gevries was beteken nie dat jou kinders sonder liefde moet grootword nie. God kan jou leer om die vesting in jou familie te breek sodat jy vir jou kinders kan gee wat jy nooit self ontvang het nie. Gideon het die altaar van sy pa wat afgode aanbid het, afgebreek (sien Rigters 6:25) en deur God se genade kan jy dieselfde in jou familie doen! Bid oor jou kinders. Lê jou hande op hulle en verklaar dat die verlede nie die hede sal binneval nie; dat God se seën deur jou na hulle toe sal vloei. Doen dit en kyk wat gebeur.

Sielskos: Job 11-14; Luk 1:26-38; Ps 67; Pred 7:19-22