Jy kan bo bekommernis uitstyg (2)

2024-05-18
Spreuke 3:5 NLV

Wanneer jy jou bekommernisse eerlik evalueer, sal jy agterkom dat jy die volgende doen:

1) Vergeet dat God jou vriend is. Die Psalmdigter het gesê: ‘Die Here vertel vir die mense wat Hom dien, alles wat Hy besluit…’ (Psalm 24:14 ABA). Vriendskap met God word gebou deur jou lewenservarings – elke aktiwiteit, elke gesprek, elke probleem en elke gedagte – met Hom te deel. Wanneer jy dit nie doen nie, raak jy onbewus van sy teenwoordigheid en stem, weerstandig teenoor sy teregwysing en uit pas met sy tydsberekening. Wanneer jy so lewe, is daar net een onvermydelike resultaat – bekommernis!

2) Verantwoordelikheid neem vir dinge waarvoor jy nie moet nie. Peter Marshall het gebid: ‘Vader, help ons met ons neiging om onsself so dun te versprei dat ons aan vrees en twyfel, aan die moegheid en ongeduld wat ons humeure dun laat raak; wat ons van gemoedsrus beroof; wat die lug grys maak wanneer dit blou moet wees en wat ‘n lied in ons harte smoor, blootgestel word.’ Jy verloor die lied in jou hart wanneer jy probeer om almal reg te ruk en aan hulle verwagtinge te voldoen.

3) Nie die verskil tussen die sekulêre en die heilige verstaan nie. Of Jesus is Here oor elke area in jou lewe, of Hy is oor geen daarvan Here nie. Ons sê vir onsself dat God oor sekere dele van ons lewens besorg is en nie oor ander dele nie. Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van die Here in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV). Om op enige ander manier te lewe, is ‘n lewe vol bekommernisse!

Sielskos: Obadja; Mal 1-4; Mark 9:30-37; Ps 18:1-29