Jy is deur ‘sy onverdiende goedheid geroep’
2023-07-18Galasiërs 1:15 NLV
Jy sal agterkom in die Skrif dat God gewoonlik besige mense roep. Moses die skaapwagter was besig om na sy trop om te sien. Gideon die boer was besig om sy landerye te oes. Petrus en Johannes die vissermanne was besig om hulle nette reg te maak. Daar was egter iets binne-in elkeen van hulle wat op God se roeping gereageer het.
Beskikbaarheid beteken vir God meer as vaardigheid. Wees dus getrou en koester die droom wat Hy in jou hart geplaas het en wanneer die tyd reg is, sal Hy alles in plek sit. Die Psalmdigter het gesê: ‘Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee’ (Psalm 37:4 NLV). Moenie ongeduldig wees nie. As God die begeerte in jou hart geplaas het, sal Hy alles voorsien wat jy nodig het om dit te vervul.
Jesus het gesê: ‘Dit is die Gees wat lewend maak, die liggaam baat jou niks. Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe’ (Johannes 6:63 NLV). Gebruik dus God se Woord en bestee tyd in gebed saam met Hom om jou visie tot vervulling te bring. As enigiemand tussen jou en God se roeping vir jou probeer kom, sê vir hulle: ‘Jammer, ek moet gaan. My lotsbestemming is te belangrik om mis te loop.’
Moenie nog ‘n dag mors om met God se roeping vir jou lewe te worstel nie; gee jouself net aan Hom oor! Hy het jou nie weens jou groot prestasies, groot intellek of groot gawes geroep nie. Die Bybel sê: ‘…Maar hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het God se genade geword’ (Romeine 5:20 NLV). Jy is deur ‘sy onverdiende goedheid geroep.’
Sielskos: Hand 3:11-5:42; Matt 26:47-56; Ps 123; Spr 16:1