Jy is deel van die familie

2019-02-27
Efesiërs 1:4-5 NLV

Ons almal het ‘n behoefte daaraan om te behoort, om deel van ‘n familie te wees. Een pastoor skryf: ‘Ek ken paartjies met harte vol liefde wat begeer om dit op ‘n kindjie uit te stort, maar hulle raak nie swanger nie. Wanneer hulle dan ‘n kind aanneem, sê hulle nie vir die kind dat hy/sy aan hulle verwagtinge moet voldoen as hy in die familie wil bly nie. Net drie foute word geduld – en dan gaan jy terug na die agentskap toe nie. Nee, hulle aanvaar die kind met oop arms en vreugdevolle harte omdat hulle hom liefhet. Hulle neem hom vir ewig in hul huis in, gee hom hulle van en maak hom ‘n wetlike erfgenaam. Lank voor ons geweet het dat ons God nodig het, het Hy ‘…vooraf besluit om ons as sy kinders aan te neem…’ Aardse ouers skei, gaan in hulle onderskeie rigtings en begin nuwe families. God doen dit egter nie; jy hoef nooit bekommerd te wees oor jou plek by Hom of jou verhouding met Hom nie. Ongeag jou ras, kleur, geloof of agtergrond, wanneer jy jou sondes bely en Christus as jou Redder aanvaar, word jou aanneming bindend en permanent. Jy is deel van God se familie.’ Nog ‘n bewys daarvan is dat ‘…die Gees self bevestig die getuienis van ons eie gees dat ons God se kinders is’ (Romeine 8:16 NLV). Besef jy wat dit beteken? Jy hoef nooit weer geïntimideerd of bang te wees of onder ‘n wolk van veroordeling te leef nie, want jy is ‘n kind van God en saam met Christus ‘n erfgenaam (sien Romeine 8:17). Die woord ‘erfgenaam’ beteken dat jy elke seëning en voordeel wat Christus vir jou by die kruis gekoop het, kan opeis. Elke liewe een, sonder uitsondering!

Sielskos: Eks 13-15; Luk 12:22-34; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22