Jy is Christus se ambassadeur (3)

2023-06-14
Filippense 3:20 NLV

Jy moet dus die volgende kwalifikasies en karaktereienskappe as ambassadeur hê:
1) Jy moet ‘n burger wees van die land wat jy verteenwoordig. ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel…’
2) Jou karakter en optrede moet die hoogste waardes van jou land verteenwoordig. ‘…Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het…’ (2 Tessalonisense 1:11 NLV).
3) Jy moet vir die werk toegerus wees. ‘Daar is ‘n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees’ (1 Korintiërs 12:4 NLV).
4) Jy moet lojaal aan jou land wees.

Kom ons kyk nou na nog twee kwalifikasies waaroor ‘n ambassadeur moet beskik:
5) ‘n Ambassadeur moet ‘n effektiewe kommunikeerder wees. Die beste ambassadeurs is tweetalig; hulle verstaan en praat die taal van die mense rondom hulle. Kan jy dit doen? Om die regte antwoord te hê, moet jy die vraag, die persoon wat die vraag vra en waar hulle vandaan kom, verstaan. Die Bybel sê: ‘…en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer. Maar doen dit taktvol en eerbiedig…’ (1 Petrus 3:15-16 NLV). Let die woorde: ‘wees altyd reg om te reageer’ op.

6) ‘n Ambassadeur moet diplomaties wees. Ambassadeurs is die effektiefste wanneer hulle innemend is terwyl hulle met hulle werk aangaan. Jy wil nie iemand hê wat arrogant en beledigend teenoor ander mense is om jou land te verteenwoordig nie. Jesus het gesê: ‘As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (Johannes 13:35 NLV). Ons boodskap is die evangelie en ons strategie is liefde! Wat is ons boodskap? ‘Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ‘n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus. Kom tot versoening met God!’ (2 Korintiërs 5:20 NLV).

Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 18:1-9; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12