Jy is Christus se ambassadeur (1)

2023-06-12
2 Korintiërs 5:20 NLV

Jou posbeskrywing in die koninkryk van God is ‘ambassadeur.’ Wat ‘n voorreg! Wat ‘n verantwoordelikheid! Kom ons kyk vir die volgende paar dae na sommige van die kwaliteite waaroor ‘n ambassadeur moet beskik: Jy moet ‘n burger van die land wat jy verteenwoordig, wees. ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel…’ (Filippense 3:20 NLV). Terwyl hy verban was, het Johannes gesê: ‘…Dit het gebeur dat ek op die eiland Patmos beland het… Op die Dag van die Here was ek in die greep van die Gees…’ (Openbaring 1:9-10 NLV). Johannes het geweet dat dit nie waar hy was nie, maar wie s’n hy was, wat getel het terwyl hy God verteenwoordig het.

Jou lewe is die enigste Bybel wat baie mense ooit sal lees. Van jou lippe sal hulle die enigste evangelie hoor wat hulle ooit sal hoor. Voor Hy gekruisig is, het Jesus die volgende gebed vir sy dissipels gebid: ‘Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar. Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. Laat hulle vir U geheilig wees deur ‘n hegte verbintenis aan die waarheid. Net soos U My na die wêreld gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur’ (Johannes 17:15-18 NLV).

Voor ‘n ambassadeur aangestel word, word hy of sy op die nouste manier denkbaar ondersoek. Hulle morele integriteit, hulle finansiële interaksies, hulle familielewe, hulle werksrekord, elke woord en daad van hulle kom onder die mikroskoop. Hoeveel te meer moet dit nie waar van die ambassadeurs vir die Koning van konings wees nie? Moet nooit vergeet aan wie se kant jy is nie. Moet nooit vergeet aan watter koninkryk jy behoort nie. Moet nooit vergeet wie jy verteenwoordig nie. Jy is Christus se ambassadeur.

Sielskos: Op 19-22; Matt 17:1-13; Ps 132:11-18; Spr 13:7-8