Jy is beveel om lief te hê
2021-03-22Johannes 15:12 NLV
As liefde slegs ‘n sentiment was wat van iemand anders se aksies en reaksies afgehang het, of ‘n emosie was waaroor jy geen beheer gehad het nie, sou Jesus nie gesê het: ‘Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het’ nie. Dit beteken dat liefde ‘n keuse is wat jy maak. Jesus het ook gesê: ‘…julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan dié wat julle haat. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak’ (Lukas 6:27-28 NLV). Hy sal ook vir jou die genade gee om dit te doen wat Hy jou beveel om te doen.
Vir duisende jare (en ook tot vandag nog in sommige Oosterse kulture), het ouers hulle kinders se huwelike gereël. Baie bruide en bruidegomme het eers op hul troudag mekaar vir die eerste keer ontmoet. ‘n Sekere jong dame van Indië moes met ‘n man trou wat sy nie geken het nie. Eendag het sy ‘n brief van haar verloofde ontvang, met die doel om hom voor die troue aan haar voor te stel. Die toekomstige bruid het egter die brief onoopgemaak teruggestuur, deur te sê dat sy glo dat die liefde na die troue ontwikkel moet word, nie voor dit nie.
‘Toe ons gebore is,’ het sy geskryf, ‘kon ons nie ons ma, pa, broers of susters kies nie en tog het ons geleer om saam met hulle te leef en hulle lief te hê. So is dit ook met man en vrou.’ In gemeenskappe wat hierdie filosofie nastreef, is skeisake amper ongehoord. Ons beveel nou nie gereëlde huwelike aan nie, maar die ‘romantiese liefde’ wat deesdae so algemeen is, het min te make met ‘n suksesvolle huwelik.
Wanneer jy daarna streef om iemand onvoorwaardelik lief te hê soos Christus jou liefhet, sal jy vreugde en vervulling ervaar.
Sielskos: Job 29-31; Matt 24:36-51; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18