Jy hoef nie meer weg te kruip nie

2021-12-30
Genesis 3:9 NLV

Wanneer jy nie goed oor jouself voel nie, gebruik jy dinge soos werk, kos, verhoudings, geld en dwelms om ‘n muur te bou om mense sodoende daarvan te weerhou om te naby aan jou te kom. Blywende verhoudings kan egter net gebou word wanneer jy ophou wegkruip. Nog ‘n tegniek wat ons gebruik om weg te kruip, is deur die fokus op ander mense te hou deur te vra: ‘Hoekom het sy ‘n nuwe huis gekry en ek nie?’ of ‘Hoekom het hy daardie werk gekry en ek nie?’ Sulke tipe denke laat jou net ellendig voel.

Wat egter nog erger is as om voor mense voor te gee, is om voor God voor te gee. Toe God vir Adam gevra het: ‘Waar is jy?’ het Hy reeds die antwoord geken. Hoekom het Hy dus die vraag gevra? Omdat Hy wou gehad het dat Adam moet erken waar hy was en wat hy geword het.

Eric Hoffer het gesê: ‘Ons lieg die hardste wanneer ons vir onsself lieg.’ Totdat jy die waarheid oor jouself in die gesig staar, sal jy dit moeilik vind om met God te praat. Jy sal eensaam en geïsoleerd voel. Dis tyd om uit jou wegkruipplek uit te kom, om te kniel en te sê: ‘Vader, ek weet dat U my liefhet. Niks kan dit verander of die vreugde daarvan by my steel nie, behalwe my eie vertwyfelinge en weiering om dit te glo. U was lief vir my voor ek nog gebore was, U het my volgens u plan aanmekaar gesit, U het my verlos en vir my ‘n spesiale doel in die lewe gegee en U werk dag na dag daaraan om my ‘n persoon te maak wat U behaag’ (sien Filippense 2:13).

Die goeie nuus is – jy hoef nie meer weg te kruip nie!

Sielskos: 1 Kor 15-16; Matt 3:1-10; Ps 116; Spr 31:30-31