Jy het slegs twee opsies: vergifnis of bitterheid

2023-08-25
Matteus 18:21 NLV

Die Bybel sê: “Daarop kom vra Petrus Hom: ‘Hoeveel maal moet ek ‘n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?’ ‘Nee,’ verseker Jesus hom, ‘nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe!'” (verse 21-22 NLV). Sewentig maal sewe is gelyk aan 490 keer. Dis jou medegelowige, iemand saam met wie jy moet lewe of werk, wat jy geroep is om te vergewe. In wese het Jesus gesê: ‘Vergewe en hou aan om te vergewe as jy ‘n verhouding met hierdie persoon wil hê.’

Kom ons erken dit, ons almal maak foute, omdat ons op verskillende maniere gebrekkig is. Volmaaktheid bestaan net in God. Onthou Jesus se woorde: ‘…Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!’ (Lukas 23:34 NLV).

Terwyl dit heeltemal normaal is om woede te voel en dit ‘n natuurlike menslike reaksie is om mishandel te voel, is daar ‘n groot verskil tussen gesonde woede en die bytende emosie van bitterheid. Bitterheid is kanker vir ‘n verhouding. Soos dr Maya Angelou gesê het: ‘Bitterheid teer op die gasheer. Dit doen niks aan die onderwerp van die onvergenoegdheid nie.’

Jesus het gesê: ‘Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen’ (Lukas 6:31 NLV). Deur die mate van vergifnis aan te bied wat jy wil ontvang, verseker jy dat jou verhouding gesond en vry van die siekte van bitterheid bly. Is dit soms moeilik om te doen? Ja, maar as jy bid, sal God jou die genade gee om dit te doen!

Sielskos: Rig 16:1-19:15; Mark 8:1-13; Ps 119:129-136; Spr 18:21