Jy het ‘n ondersteuningstelsel nodig

2022-06-30
Galasiërs 6:2 NLV

God het ons fisiese liggame met interne stelsels wat mekaar ondersteun, geskep. Dis dieselfde met ons verhoudings. Almal het ‘n ondersteuningstelsel nodig. Soms, wanneer ander mense ons teleurstel, sê ons: ‘Van nou af gaan dit net ek en God wees!’ Dis ‘n groot fout! Dis die skaap wat van die trop afdwaal wat deur die wolf geëet word. Satan sal jou isoleer om jou sodoende te vernietig. ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie’ (Prediker 4:12 NLV).

Navorsing bewys dat mense wat sorgsame ondersteuning het langer lewe, vinniger van siekte herstel en die lewe meer betekenisvol vind. Ondersteuning gee ons ‘n sin van verbintenis en aanvaarding, wat kern menslike behoeftes is. Dit voorsien ‘n area waar jy weerloos kan wees; ‘n plek waar jy veilig kan voel om te sê: ‘Ek weet nie,’ of ‘Kan jy my help?’ of ‘Ek het ‘n drukkie nodig.’ Dit is ondersteuning – op God se manier. As jy dit nie in jou eie familie kan vind nie, draai na die familie van God toe.

Nog ‘n gedagte: Moenie vergeet om jou waardering aan diegene wat jou ondersteun, te bewys nie. Onthou om te sê: ‘Ek is dankbaar vir jou hulp.’

Ondersteuning is nie ‘n eenrigting pad nie. ‘Help ander gelowiges wat swaarkry…’ Moenie so verdiep in jou eie probleme raak dat jy vergeet dat ander mense ook probleme het nie. Neem die tyd om ook oor hulle belange uit te vra. Niemand hou van iemand wat net neem nie. Dis in die gee-en-neem van wedersydse ondersteuning wat ons groei en ons Godgegewe potensiaal in die lewe vervul.

Sielskos: Jer 7-9; Matt 22:23-33; Ps 59:9-17; Spr 14:23-24