Jy het ‘konneksies’

2020-04-17
1 Johannes 2:1 NLV

Die maan en die sterre wat jy op ‘n helder nag kan sien, is maar druppels in die grootse see van die heelal. Ons son is maar een van meer as 100 biljoen sterre waaruit die Melkweg bestaan. Daar mag dalk soveel as 100 biljoen ander sterrestelsels wees – biljoene wat moontlik uit honderde miljoene planete soos ons s’n bestaan. Die Hubble-ruimteteleskoop kan sterrestelsels so ver as twaalf biljoen ligjare weg optel – dis twaalf biljoen maal ses triljoen myle! Dit alles is geskep omdat God dit so beveel het (sien Genesis 1). Wat nog wonderbaarliker as dit is, is dat die Een wat dit alles geskep het, lief is vir jou en oor elke detail van jou lewe omgee. Wanneer jy swak is, is Hy sterk. Wanneer jy droogmaak, vergewe Hy jou. Die Bybel sê: ‘…As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige. Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes…’ (verse 1-2 NLV). God se genade is wonderbaarlik en jy hoef nie iets te doen om dit te verdien nie. Omdat God jou Vader is, kan jy Hom enige tyd kontak en welkom voel. Jy is aan die Een gekonnekteer wat ‘…ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer – behalwe dat Hy nie voor die sonde geswig het nie. Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:15-16 NLV). Jy is aan oneindige genade gekonnekteer – hoe wonderlik is dit nie?

Sielskos: Lev 21:1-23:25; Mark 1:35-45; Ps 127; Spr 10:11