Julle het mekaar nodig (2)
2023-06-08Genesis 2:24 NLV
Deesdae word baie skeisake op onversoenbaarheid gegrond. Die man sê byvoorbeeld: ‘Ons het niks in gemeen nie.’ Of die vrou sê: ‘Ons is so verskillend soos olie en water.’ Natuurlik is julle! As julle presies dieselfde was, sou een van julle onnodig gewees het! Een hou van koffie; die ander van tee. Een gaan vroeg bed toe; die ander een is ‘n naguil. Een is stil; die ander een is ‘n ekstrovert. Kan dit wrywing veroorsaak? Vir seker! Dis waar liefde, vriendelikheid en geduld in die prentjie kom.
Die ware kwessie is nie julle verskille nie – dis om daardie Godgegewe verskille vir julle, in plaas van teen julle, te maak werk. Die hartseer feit is dat ons vergeet het hoe om ons verskille te gebruik om mekaar aan te vul. Die oomblik wat jy begin soek na dit wat God jou deur jou maat probeer leer, hou jy op kla en begin jy groei.
Miskien dink jy diep in jou hart dat jou maat nie deur God vir jou uitgekies is nie. Miskien nie, maar as jy Hom toelaat, sal Hy jou in elk geval leer hoe om vir hom of haar lief te wees en van hulle te leer. Daar is geen probleme wat uit julle verskille voortspruit wat nie deur ‘n gesonde dosis van God se genade aan te wend en die riglyne wat Hy vir ‘n gelukkige verhouding neergelê het te volg, opgelos kan word nie.
Julle moet egter daaraan werk. Twee onvolmaakte mense maak nie ‘n perfekte huwelik nie. Twee onvolmaakte mense wat egter daaraan verbind is om mekaar lief te hê en God se riglyne te volg, kan so naby aan Eden se saligheid as wat dit hierdie kant van die hemel moontlik is, kom.
Sielskos: Op 5-9; Matt 15:29-39; Ps 16; Spr 13:1