Julle het mekaar nodig (1)
2023-06-07Genesis 2:22 NLV
Voor God vir Adam ‘n vrou gegee het, het Hy vir hom ‘n roeping gegee. Toe het Hy aan Adam verduidelik dat hy hulp sou nodig kry om daardie roeping te vervul. Hy sou nooit sy volle potensiaal op sy eie kon bereik nie, omdat hy onvolledig was. Adam het dit nie besef totdat God dit aan hom openbaar het nie. Hoe het Hy dit aan hom openbaar? Toe Adam begin om die diere in die tuin name te gee, was hy in ‘n posisie om te sien dat elkeen van hulle ‘n maat het. Elke skepsel het ‘n ander skepsel net soos hy of haar gehad, terwyl Adam niemand gehad het nie.
Let op dat God nie vir Adam ‘n vrou gegee het totdat hy self besef het dat hy een nodig gehad het nie. Ons waardeer iets of iemand wanneer ons besef hoe noodsaaklik hulle is. Een van die algemeenste klagtes wat beraders hoor, is dat een van die huweliksmaats onnodig voel. Wanneer God egter julle huwelik betree en julle verstaan hoe elkeen van julle tot die huwelik bydra, voel julle beide nodig.
God het vir Adam ‘n maat gegee wat spesifiek ontwerp is om die opdrag uit te voer wat Hy vir hom gegee het – om oor die aarde te heers (sien Genesis 1:28). Hy het Eva vir Adam gegee sodat hy iemand sou hê om mee saam te werk om die doel waarvoor hy geskep is, te bereik. Eva is nie van Adam se kop af geneem om bo hom te wees, of van sy voete af om onder hom te wees nie. Sy is geskep uit een van sy ribbes, ‘n beskermde plek na aan sy hart. Op dié manier kon hulle langs mekaar werk om hul doel te bereik. Julle het mekaar nodig.
Sielskos: Op 1-4; Matt 15:15-28; Ps 129; Spr 12:27-28