Jou posisie en jou kondisie
2023-06-02Romeine 5:9 NLV
Die Bybel sê: ‘God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was. Ons is nou vrygespreek deur Jesus se dood. Hoeveel te meer sal Hy ons nie, deur Jesus, red van die toekomstige oordeel nie! Bo alles kan ons nou ook jubel in God omdat Jesus Christus ons Here ons bevoorreg het om nou God se vriende te wees’ (verse 8-9,11 NLV).
God is lief vir jou en aanvaar jou net soos jy is. Dit word egter beter. Hy sien jou as blaamloos. Hoe? ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Let die woorde ‘ons eenheid met Christus’ op.
Onthou altyd dat daar ‘n verskil tussen jou posisie en jou kondisie is. Wanneer jy jou vertroue in Christus plaas, word jy as ‘geregverdig’ voor God geplaas. Jy sê: ‘Maar wat van my kondisie? Ek faal nog steeds.’ Die werk van die inwonende Heilige Gees is om jou kondisie opwaarts na die vlak van jou posisie te beweeg. ‘…Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (2 Korintiërs 3:18 NLV).
Hoe doen die Heilige Gees dit? Hy bring jou terug na die plek van belydenis waar jy skoon gewas word. Jou posisie in Christus verander nie, maar jou kondisie verander aanhoudend soos jy meer soos Christus word.
Sielskos: 1 Kon 14-15; Matt 14:1-12; Ps 117; Spr 12:20-22