Jou ou geaardheid en jou nuwe geaardheid

2021-06-13
Galasiërs 5:17 NLV

Die Bybel sê: ‘…Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie. ‘n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande’ (vers 17 NLV). Klink dit bekend? Hier is vier maniere om die daaglikse stryd tussen jou ou en nuwe geaardheid te oorwin.

1) Wees eerlik. Erken dat jou vlees altyd na bevrediging in die verkeerde dinge sal smag.

2) Wees nederig. Erken dat jy magteloos is om die stryd sonder God se hulp te wen. Deur jouself aan God oor te gee, ontvang jy sy krag in daardie eerste deurslaggewende oomblikke van elke toets. Hoe nader jy aan God beweeg, hoe sterker sal jy word wanneer jy voor versoeking en moeilikheid te staan kom.

3) Wees gedissiplineerd. Dit is ‘n persoonlike kwessie; niemand anders kan dit vir jou doen nie. Paulus skryf: ‘Julle moenie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie’ (Romeine 6:12 NLV). As iemand anders jou daarvan moet weerhou, werk dit nie!

4) Wees waaksaam. As soldaat moes Dawid van beter geweet het, maar Satan het hom onkant gevang toe sy weerstand swak was. Gevolglik het hy owerspel met Batseba gepleeg en haar man laat vermoor in ‘n poging om sy sonde weg te steek.

Miskien dink jy dat dit nie met jou kan gebeur nie. Paulus, een van die grootste apostels, het geskryf: ‘Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie’ (1 Korintiërs 9:27 NLV).

Sielskos: Gen 11:1-9;
Fil 2:1-11