Jou nalatenskap
2019-07-28Matteus 25:21 NLV
Jy kies nie die oomblik van jou aankoms en vertrek hier op aarde nie, maar jy kies wat jou nalatenskap sal wees. Op vyf het hy ‘n gevorderde concerto vir die klavesimbel geskryf. Voor hy tien was, het hy verskeie sonatas vir die viool geskryf en die beste van Bach en Händel op geheue gespeel. Kort na sy twaalfde verjaarsdag het hy sy eerste opera gekomponeer en begelei. Hy het ‘n ere-aanstelling as konsertmeester by die Salzburg-simfonieorkes ontvang en binne ‘n paar jaar is hy as die trots van Salzburg beskou. Teen die tyd wat hy op die ouderdom van vyf-en-dertig oorlede is, het hy agt-en-veertig simfonieë; sewe-en-veertig arias, duette en kwartette met orkesbegeleiding en meer as ‘n dosyn operas geskryf. Daar word geskat dat hy ongeveer 600 oorspronklike komposisies altesaam geskryf het. Mozart het egter die meeste van sy lewe in armoede deurgebring en in onbekendheid gesterf. ‘n Paar van sy vriende het dit tot by die kerk vir sy begrafnis gemaak, maar ‘n storm het hulle daarvan weerhou om na die begrafplaas vir sy teraardebestelling te gaan. Dus het dit amper onmoontlik geword om die presiese ligging van sy graf te bepaal. Geen altaar is by sy laaste rusplek opgerig nie. Waarvoor word Mozart vandag onthou? Wat is sy nalatenskap? Nie die lewe wat hy gelei het nie, maar die musiek wat hy aan die wêreld gegee het wat vandag nog ons lewens verryk. Wanneer jou lewe se enigste fokus selfbelang is, sal jy nie vir die regte redes gemis word nie, of jy sal glad nie gemis word wanneer jy sterf nie. Vind dus ‘n saak groter as jouself, een wat jou sal oorleef en wy jouself daaraan toe. Moenie net ‘n testament nalaat nie, laat ‘n nalatenskap wat God se wil vervul, na.
Sielskos: Lev 24:17-22; Deut 15:7-11; Matt 5:38-48