Jou lewenstaak
2017-08-22Handelinge 20:24 NLV
Om jou lewenstaak mis te loop, is om dit waarvoor God jou op aarde geplaas het, mis te loop. Jy het gawes en is deur God geroep, maar jy moet dit ernstig opneem. Die vraag is nie waarvan jy af weghardloop nie, maar waarheen jy op pad is. Om sukses te behaal, moet jy God se wil ken en daarop konsentreer om dit te vervul. Jy sal die nodige ‘hoe’ ontvang wanneer jy die kragtige ‘hoekom’ verstaan. ‘n Doelwit, nie geld of talent nie, is jou grootste bate. Om jou te help om jou lewenstaak te ontdek, antwoord die volgende vrae: 1) Wat is jou temperament en wat is jou talente? Die sielkundige en motiveringspreker Charles Garfield het gesê, ‘Suksesvolle mense is die mense wat aan ‘n dwingende missie toegewyd is. Dit is baie duidelik dat hulle baie omgee vir dit wat hulle doen en hulle aksies, energie en entoesiasme kan direk teruggelei word tot daardie spesifieke missie.’ 2) Hoekom doen jy wat jy doen? Daar is ‘n groot verskil tussen om iets te doen wat jy glo God jou geroep het om te doen en dit wat jou ouers, vriende of ego wil hê jy moet doen. 3) Wat doen jy nie goed nie? Om te weet waarvoor jy geroep is, begin dikwels wanneer jy ontdek waarvoor jy nie geroep is nie. Wanneer jy jou beperkinge kan aanvaar, is jy op die pad om jou lewenstaak te verstaan. Wanneer jy voorgee dat jy iets is wat jy nie is nie, lewe jy met ‘n kroniese sin van onvoldoendheid en stel jy jouself oop vir frustrasie. Moenie dit doen nie. Wees ontvanklik vir die waarheid oor jouself. Ontdek jou Godgegewe taak en gee dan jouself ten volle daarvoor.
Sielskos: 2 Kron 19-21; Mark 6:45-56; Ps 119:121-128; Spr 22: 4-7