Jou hart moet besny wees
2021-12-29Deuteronomium 30:6 NLV
Hebreeuse babaseuntjies is volgens kerkgebruik besny. Dit het aangedui dat hulle in ‘n verbondsverhouding met God is waarin Hy beloof om hulle te beskerm, te lei en te seën. In die Nuwe Testament, het Paulus hierdie kerkgebruik ‘vergeestelik.’ ‘…die ware besnydenis… is die besnydenis van jou hárt wat deur die Gees van God verrig word…’ (Romeine 2:29 NLV). Geestelik gesproke beteken besnydenis dat ons enigiets wat verkeerde impulse en optredes in ons bevorder, ‘afsny.’
Jesus het gesê: ‘Gelukkig is dié wie se harte volkome op God gerig is, want hulle sal vir God sien’ (Matteus 5:8 NLV). Wanneer jou hart rein is, sal jy God kan sien waar ander mense nie kan nie en Hom kan hoor wanneer ander mense nie kan nie. Die woord ‘rein’ kan ook as ‘sonder besoedeling’ verstaan word. Dis die verskil tussen ‘n helder stroom en ‘n besoedelde stroom. Dit beteken dat jy jou selfgesentreerde denke agterlaat en jou vleeslike natuur kruisig.
Die verskil tussen vergifnis en reiniging is soos die verskil om ‘n onkruid teen die grond af te sny, of dit met wortel en al uit te trek. Vergifnis hanteer die ‘resultaat’ van sonde – dis maklik om te identifiseer. Reiniging hanteer die ‘oorsaak’ van sonde – wat nie so maklik is om te identifiseer nie, omdat dit jou natuurlike eienskappe en karakterfoute insluit. Vergifnis word deur belydenis meegebring, terwyl jy in die lig moet wandel om gereinig te word. ‘As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is… en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde’ (1 Johannes 1:7 NLV).
Vra jy oor en oor vir God om dieselfde sondes te vergewe? Dis omdat jy ware reiniging moet ervaar. Jou hart moet besny word. Dis ‘n werk vir die Heilige Gees.
Sielskos: 1 Kor 12-14; Matt 2:16-23; Ps 139:13-24; Spr 31:28-29