Jou droom is steeds lewendig
2023-06-10Genesis 45:27 NLV
As dit vir jou voel of die droom wat jy glo God vir jou gegee het dood is, lees dan die volgende: “‘Josef lewe!’ sê hulle vir hom. ‘Hy is die heerser van die hele Egipte!’ Jakob was oorbluf deur hierdie nuus. Hy kon dit net nie glo nie. Maar toe hulle Josef se boodskappe oordra, en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy tot verhaal gekom” (verse 26-27 NLV).
Vir jare lank het Jakob geglo sy seun, die dromer, is dood. Dit was egter ‘n leuen. Op sy oudag het waens wat gelaai was met rykdom hom kom haal om sy seun te gaan sien. Toe Jakob die nuus hoor, ‘…kon [hy] dit net nie glo nie…’ (vers 26 NLV). Wanneer jy vir jare met moedeloosheid saamleef, is dit moeilik om oorwinning te wagte te wees. God is egter geduldig. Hy sal aanhou werk aan jou. Hy sal sy genade en goedheid op so ‘n manier demonstreer dat jy Hom weer sal begin vertrou: ‘…Maar toe hulle Josef se boodskappe oordra, en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy tot verhaal gekom’ (vers 27 NLV).
Moenie glo dat jou droom dood is en nooit tot vervulling gaan kom nie. Moenie diegene wat jou vertel dat jy te oud is om die droom wat God vir jou gegee het te vervul, glo nie. ‘…Julle oumense sal drome droom…’ (Joël 2:28 NLV). God is die gewer van drome. Hy gee dit egter nie net nie, Hy wek dit op en bemagtig jou om dit te vervul. Dis nie te laat nie. Jy is nie te oud nie. Wat God vir Jakob gedoen het, kan Hy ook vir jou doen.
Sielskos: Op 15-18; Matt 16:13-28; Ps 132:1-10; Spr 13:4-6