Jou Boas-seisoen

2024-05-19
Rut 2:7 NLV

Na tien jaar se hartseer en swaarkry waar sy haar man en haar ondersteuningstelsel verloor het, het God vir Rut aan haar nuwe man, Boas, voorgestel. Waar? In die landerye waar sy elke dag gewerk het. Wie was Boas? Die eienaar van die landerye. Een van die dinge wat Boas na Rut toe aangetrek het, was haar werksetiek. Die voorman het vir Boas gesê: ‘…Sy het nog die hele tyd aanmekaar gewerk, behalwe vir ‘n kort tydjie toe sy daar onder die skuiling gerus het’ (vers 7 NLV). Gevolglik het sy uiteindelik met die baas getrou.

Dis hoekom die Bybel so baie oor die verskil tussen luiheid en harde werk, slordigheid en uitnemendheid, traagheid en stiptelikheid, eerlikheid en oneerlikheid en ‘n positiewe gesindheid en ‘n negatiewe een, sê. Daar is altyd iemand wat jou waarneem wat in staat is om jou te seën. Lees die volgende drie Skrifgedeeltes:

1) ‘Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie’ (Spreuke 22:29 NLV).
2) ‘Luiaards begeer baie dinge, maar hulle kry dit nie. Mense wat hard werk, het meer as wat hulle kan begeer’ (Spreuke 13:4 NLV.
3) ‘Mense wat lui is, word gou arm. Hulle wat fluks is, word ryk’ (Spreuke 10:4 NLV).

Deur te veel te verwag en so min as moontlik terug te gee, doen jy nie net jou maatskappy in nie, maar ook jouself. Hoekom? Omdat God belowe om jou te eer wanneer jy jou beste gee. Sy Woord sê: ‘Want uit die ooste of die weste, of selfs uit die woestyn, kom daar geen verheffing nie. Maar God is die regter wat verneder of verhef’ (Psalm 75:7-8 NLV).

Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-21