Jou beste dae lê nog voor

2019-04-28
Psalm 147:3 NLV

As jy probeer om van ‘n gebroke verhouding te herstel, moenie ‘n ander een te vinnig aanknoop nie. Soos jy gesond raak, begin jy gesonde besluite te neem. Sommige seerplekke neem ‘n lang tyd om te genees, maar moenie moedeloos word nie: ‘Hy genees die gebroke hart, en verbind die wonde.’ Gee God ‘n kans. Neem tyd om sy Woord te ondersoek en uit te vind hoe Hy oor jou voel, want dis die ware basis vir alle selfwaarde. As God jou met volle kennis van jou tekortkominge kan liefhê en aanvaar, moet jy jouself minder veroordeel! Jy kan liefhê en liefgehê word, maar net met dieselfde maat waarin jy jouself liefhet! (sien Matteus 22:39). Maak volgende keer seker dat jou keuses gesonde keuses is en nie net op behoeftes of die vrees vir eensaamheid gebaseer is nie. Wees ook versigtig; wanneer jy jouself nie kosbaar ag nie, trek jy mense aan wat dieselfde oor jou voel, insluitend diegene wat jou sal probeer beheer. Jy verdien beter, hou dus jou oë oop daarvoor. Onthou, jy lei ander mense op om jou te behandel op die manier wat jy jouself behandel. Soos jy heel word, sal jy sien hoe ongesond sommige van die keuses in jou verhoudings was. As sommige mense jou dan verlaat, dan is dit nou maar so. Soms moet jy iets wat minder is, opgee sodat God vir jou meer kan gee. Hy het nuwe verhoudings vir jou in gedagte, maar Hy wag dat jou waardes, persepsies en selfwaarde in lyn met sy Woord kom. Neem dit dus stap vir stap, een dag op ‘n slag. Wees bly – jou beste dae lê nog voor!

Sielskos: Eks 20:8-11; Eks 16:1-31; Mark 3:1-6; Luk 13:10-17