Jesus wil tyd saam met jou deurbring!

2024-08-26
Lukas 10:40 NLV

Maria en Marta was dieselfde in die sin dat hulle altwee vir Jesus lief was. Die verskil tussen hulle het egter te voorskyn gekom toe Jesus hulle huis besoek het. ‘… ‘n vrou, Marta, [het] hulle in haar huis verwelkom… Haar suster, Maria, het aan die Here se voete gesit en luister na wat Hy hulle leer. Maar Marta was bekommerd oor die groot ete wat sy besig was om voor te berei. Sy kom toe na Jesus en sê: ‘Here, lyk dit darem nie vir U onregverdig dat my suster net hier sit terwyl ek al die werk doen nie? Sê sy moet my kom help.’ Maar die Here het geantwoord: ‘My liewe Marta, jy kwel jou tog oor so baie dinge! Daar is regtig net een ding wat die moeite werd is om oor besorg te wees. Maria het dit ontdek – en Ek gaan dit nie van haar af wegneem nie’ (verse 38-42 NLV).

Jesus het nie gesê dat dit wat Marta doen nie goed was nie, maar dat wat Maria doen, beter was. Wat het Maria gedoen? By sy voete gesit, na sy woorde geluister en Hom liefgehad en aanbid.

Daar is ‘n les hier te leer, veral vir diegene wat by die kerk en die bediening betrokke is. Moenie so betrokke by die werk van die Here raak, dat jy nie betrokke by die Here van die werk raak nie. As Jesus vir aandete gekom het, sou Hy dalk vir Marta geprys het en vir Maria gesê het om in die kombuis besig te raak. Sy prioriteit voordat Hy na die kruis gegaan het, was egter om tyd met diegene wat Hy liefgehad het deur te bring. Hier is ‘n gedagte wat jou gesindheid teenoor gebed sal verander: Jesus wil tyd saam met jou deurbring!

Sielskos: 2 Kro 22-24; Luk 17:1-10; Ps 119:121-128; Spr 22:4-7