Jesus se juk
2022-03-31Matteus 11:29 NLV
Jesus het met die mense gepraat wat moedeloos oor godsdiens geword het. Mense wat uitgebrand was deur te probeer – en te faal – om ‘n lang lys reëls en regulasies na te kom. Hier is wat Hy vir hulle gesê het: ‘Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry. Want my juk sal saggies op julle skouers rus en my las is lig om te dra’ (verse 28-29 NLV).
Die ‘juk’ waarvan Jesus gepraat het was ‘n harnas wat om die nekke van twee osse gegaan het, sodat hulle die ploeg in een rigting kon trek. In elke span osse, was een die leier en die ander een het gevolg. Jesus sal die leiding neem, maar jy moet in pas met Hom bly om sy seën op jou lewe te geniet. Hy belowe dat sy juk jou nie sal wurg nie; dit sal jou nie moeg maak of jou nie skaaf nie.
As jy waarlik vry wil wees, moet jy jouself toelaat om aan Jesus se juk vasgemaak te word, deur jou wil aan syne te onderwerp. Dit beteken egter nie dat jy Christus se juk vir ‘n rukkie aanvaar en dan in die ander rigting begin trek wanneer dinge nie gaan soos jy wil nie. Wanneer jy dit doen, raak die las swaarder en begin jy uitgeput voel. Vrede en rus vind plaas wanneer jy in die juk ontspan en Christus toelaat om te lei. Jesus het gesê: ‘…Ek sal julle lewens verkwik…’ Dit beteken dat jou opsies is om Hom teen te staan of om in Hom te rus. Watter een sal dit wees?
Sielskos: Job 40-42; Luk 20:41-47; Ps 31:1-13; Spr 8:34-36