Jesus is jou advokaat!
2023-07-101 Johannes 2:1 NLV
Op daardie dae wat jy wonder hoe God vir jou kan lief wees, lees die volgende woorde: ‘…As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.’ Wanneer jou gedagtes die verkeerde rigting inslaan en jou optrede allesbehalwe Christelik is, herinner jouself: ‘…Hy leef vir altyd om [ons] saak voor God te bepleit!’ (Hebreërs 7:25 NLV). Dit werk as volg: Wanneer God se wet jou skuldig verklaar, tree Jesus in en sê: ‘Vader, Ek tree namens hierdie persoon op; hulle vertrou op my bloed wat gegiet is en my regverdigheid is na hulle toe oorgedra.’
Probeer jouself die volgende indink: In die Ou Testamentiese tabernakel is die bloed van ‘n lam bo-op die versoendeksel uitgegooi en die verbondsark wat die gebroke wet bevat het – die rekord van ons skuld – is daaronder geplaas. Die enigste manier waarop God dus die gebroke wet kon sien – was deur die bloed. Dis dieselfde vandag! As jy wonder hoekom God aanhou om jou lief te hê, jou te aanvaar en jou te seën, is dit omdat Jesus jou advokaat is!
Let op: 1) Hy is ten volle gekwalifiseerd om jou te verteenwoordig. ‘…Hý is my geliefde Seun, ‘n Kind so na my hart’ (Matteus 3:17 NLV). 2) Hy het nog nooit ‘n saak verloor nie. ‘Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos…’ (Hebreërs 7:25 NLV). 3) Hy bied sy dienste gratis aan. ‘…sonder prys en geld’ (Jesaja 55:1 NLV).
Die Bybel sê: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). Jesus is jou advokaat, dus kan jy vandag met vrymoedigheid na God toe gaan.
Sielskos: Jer 36:27-40:16; Matt 25:1-13; Ps 137; Spr 15:15-17