Is jy verraai?
2021-02-28Psalm 41:10 NLV
Nie net moet ons spasie los vir onverwagte teleurstellings en onbekende veranderlikes in die lewe nie, ons moet ook besef dat ons onvermydelik deur ander mense verraai en seergemaak sal word. Miskien het hulle ons mislei deur ons te laat glo dat hulle betroubaar is, of dalk het hulle opreg begin maar deur die virusse van jaloesie en gierigheid geïnfekteer geraak. In alle geval, jy sal iewers voor verraad te staan kom. Selfs die psalmdigter, Dawid, het geskryf: ‘My beste vriend wat ek vertrou het, wat saam met my geëet het, selfs hy het sy rug op my gedraai.’ Ingesluit by die lys teenspoed waaronder Paulus in sy bediening gely het, is ‘valse medegelowiges’ (sien 2 Korintiërs 11:26).
Ja, soos een skrywer opmerk: ‘As jy lank genoeg lewe, sal jy agterkom hoe wisselvallig en selfsugtig die mens se hart kan wees.’ Dis dikwels die mense vir wie ons die liefste is en volkome vertrou, wat die meeste mag het om ons te verraai. Wat kan ons dus doen? Ons moet die seer en woede hanteer, sonder om toe te laat dat dit ons vir die langdurige nagevolge van bitterheid verblind. Moet ook nie van jou lewensdoelwitte of ander verhoudings afsien wanneer dit gebeur nie. Soos ‘n kind wat leer loop en deur ‘n boelie gepootjie word, moet jy weer opstaan en met jou reis voortgaan. Jy sal aan die begin ‘n bietjie seer en vol bloukolle wees, maar die rowe sal genees en jy sal sterker wees omdat jy die val oorleef het. Nadat hy die verraad van sy beste vriend betreur het, het Dawid vir God gesê: ‘Ek weet dat U my liefhet, want my vyand seëvier nie oor my nie. U hou my staande…’ (Psalm 41:12-13 NLV). Dis die wenhouding!
Sielskos: Eks 17:8-16; 2 Kor 1:3-7