Is jy vandag in ‘n storm?
2020-12-19Matteus 14:22 NLV
Het Jesus geweet dat daar ‘n storm aan die broei was toe Hy die dissipels gedwing het om weer in die skuit te klim? Ja. Hoekom het Hy hulle dus in die middel daarvan uitgestuur? Om te leer, te groei en hulle geloof te strek.
Die Bybel sê vir ons: “Kort voor dagbreek het Jesus op die see na hulle toe aangeloop gekom. Toe die dissipels Hom so op die see sien loop… [het] hulle gedink dis ‘n spook. Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: ‘Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek'” (verse 25-27 NLV).
Daar is drie belangrike lesse hieruit te leer: 1) Om die Here te dien, stel jou nie van die lewe se storms vry nie, maar dit beskerm jou wanneer jy daarin is. Jesus het belowe: ‘…In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed. Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV).
2) Wat jy as ‘n probleem sien wat na jou kant toe kom, mag dalk die Here wees wat na jou toe op pad is. Die dissipels het gedink dat Jesus ‘n spook is, terwyl Hy inderwaarheid hulle Redder was.
3) Jesus mag dalk nie opdaag wanneer jy wil hê Hy moet nie, maar Hy sal altyd betyds opdaag. Die dissipels was vir ure in die storm voor Jesus te voorskyn gekom het. Toe Hy daar kom, het Hy gesê: ‘…Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.’ Let op dat Jesus hulle eers innerlik gekalmeer het, voor Hy die uiterlike storm laat bedaar het.
Dis hoe Hy werk. Eers verander Hy ons – dan verander Hy ons omstandighede. Gevolglik groei ons in geloof en word ons toegerus om die volgende storm in ons lewens, te hanteer.
Sielskos: Miga 5-7; Joh 21:1-14; Ps 12; Spr 31:1-5