Is jy suksesvol, maar onvervuld?
2021-07-09Spreuke 3:5 NLV
In 1987 het die Minnesota Twins-bofbalster, Kirby Puckett, sy kinderdroom gesien waar word toe hy sy span na ‘n Wêreldreeks-kampioenskap gelei het. Greg Gagne, die Twins se kortstop, het die toneel in die klubhuis na hulle oorwinning beskryf. Hy het vertel van die omhelsings, die gejuig, die gelag en die oorhandiging van die trofee. Die herinnering wat hom egter altyd sou bybly, het hy gesê, het tien minute in die feesvieringe plaasgevind toe hy vir Kirby Puckett stil op ‘n stoel, weg van almal, sien sit het. Gagne het sy weg deur die media, die spelers en die afrigters gedruk, langs Puckett gaan sit en hom gevra waaraan hy dink. Met ‘n diep hartseer in sy oë, het Puckett geantwoord: ‘As dit al is waaroor die lewe gaan, is die lewe maar bra leeg.’
Kan jy jouself daarmee vereenselwig? Jy mag dalk ‘n wonderlike werk, ‘n uitstekende salaris, ‘n mooi huis, ‘n wonderlike familie, goeie gesondheid en selfs ‘n lae gholf-voorgee hê – maar geen ware vrede nie. Indien dit die geval is, is jy nie alleen nie. Daar is baie mense in die wêreld wat net soos jy voel.
Koning Salomo was regoor die wêreld beroemd. In sy tyd het hy meer geld as Bill Gates, Warren Buffett en Donald Trump saam gehad. Tog het hy geskryf: ‘Ek het daarna nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. En ek het besef hoe sinloos dit alles is…’ (Prediker 2:11 NLV). Tot watter gevolgtrekking het Salomo gekom? ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV).
Sielskos: Joël 1-3; Luk 6:17-26; Ps 79; Spr 15:18-21